Home | Lyrics home

ode aan ragabus

1978

dis saterdagmiddag en 60'000
aanbidders stroom na die tempel
die aangeleentheid is deur die pers 
as  'n wonderwerk bestempel
kollekte is rande per kop 
by die poort word jou sak omgedop  
kry jou sitplek
wriemel in tussen
biltong en nartjies
wat trek
 
voor die diens begin is
daar veel pret
op die groen tapyt voor die preekstoel
baniere swaai en hemde waai 
en vuiste maai in die warboel

bloupette gryp hul vas
iemand ontkom aan sy jas
die kameras draai
die volk sit reg
vandag word dit gebeeldsaai   

heil heil ragabus    


dis net na drie die diens begin
en die massa kom op hul voete  
met groot respek vir heiligheid  
bid hul om  'n aflaatboete  

dertig ouderlinge
doen hulle heilige dinge
die priester swaai sy arm op  
beduie die diens beginne   

die priester lig sy
hand omhoog
spreek die kerkraad aan
die skare is mal
hul is getref deur
dionisus en sy waan
  
sestien sak knussies saam  
'n brandofferaltaarraam  
die eierreliek
'n offer geslag
ter ere aan ragabus naam   

heil heil ragabus
   
'n verbond is gesmee met besnydenis -
tekens van  'n neus wat bloei  
gemeente gil
gemeente jil
deur die bakgusbloed wat vloei  

hordes word gedoop
s.a. se nuwe hoop  
vrede op aarde 
vreugde genot 
van ragabus, heilig  
vermaarde
 
'n gesang word gesing met
nuwe woorde
op die wysie van lied vier  

'n ouderling het die eier geplaas  
vervyf, en dionisus seevier  
godsdiensekstase  
mistiese frases
die koerante brul 
die opskrifte gil
van die nuwe sekte -  
die blou bul 

heil heil ragabus 

die dagboek van verlede sê  
christelik-nasionaal
intussen het ons ou volkie  
dit lankal reeds bepaal
 'n drie-eenheid
in hierdie tyd
dionisus, bakgus  
en ragabus jolyt   

heil heil ragabus    
heil heil ragabus 


© 1978 Jacques Steyn