kêfie blues
die griek oppie hoek
swart vingernael in 'n boek
bloubaard's twee dae oud
sy slaptjips altyd koud
dit ruik na asyn
sy laaitie's goed getrein
syfers op koerantpapier
swart sit die vlieë teen die muur
dissie kêfie teenie bult
medie pinbolmesjiene wat tilt
en die baaiks wat brul
ennie banne wat gil
ennie kaartspelers kul en vloek
by die kêfie oppie hoek
'n halwe witte eksê
en 'n liter wil hy hê
gee hom 'n pak skywe
kyk hoe koekeloer hy na die scope lywe
'n groot ou tjaaf hom grief
hy groet hom terug, sê haai tjief
jy sien hy's maar ietwat klein
sy pa werk oppie myn
dissie kêfie teenie bult
medie pinbolmesjiene wat tilt
en die baaiks wat brul
ennie banne wat gil
ennie kaartspelers kul en vloek
by die kêfie oppie hoek
met 'n skyf teenie muur
tussen allie leë blikkies bier
'n verbleikte tjipspapier
het hy die alleenheid verduur
hy's 'n opskrif teen 'n paal
hy't die voorblad gehaal
hy't met sy lewe betaal
toe hy sy tjom wou gaan haal
* * *
mens bly tog knaend soek
al sê hul jy's net 'n nommer in 'n boek
ek laaik niks van daai blues
sing maar net my kêfie blues
as jy jou antwoord kry
bel my op en sê vir my
en ek sal 'n ander tune slaan
want ek sal weet waarheen ek gaan
1979
© Jacques Steyn