dwaal
die denker het sy ken gestut
op sy kneukels laat rus
die denker het met frons geloer
na die sin van bestaan
die denker het sy kerker verlaat
neergekyk op die lewe
'n drang en strewe
na die sin van bestaan
sy siel laat dwaal
en jy dwaal...
guru dev buig sy bene saam
kruis dit transendenteel
sy vingers mediteer in sirkels saam
op die voue van sy knieë
hy sê sy mantra saggies net vir sy oor
lees die bhagavad-gita oor en oor
groei na nirvana
dalk die brahman
dalk die shaman
en jy dwaal...
denker dink hy't sy dors geles
met water van lewe wat nooit opdroog
denker dink sy honger's gestil
met brood wat die knaagpyne ewiglik vul
denker dink hy't weer kind geword
deur houtsimbool
en die wind laat waai
die rus wat kom
maar...
hy dwaal...
sy dwaal...
jy dwaal...
ek dwaal...
ons dwaal...
1978
© Jacques Steyn